Tuesday, April 5, 2011

TIENPUNTVERBETERINGSPLAN VIR DIE TSHWANE METROPOLITAANSE MUNISIPALITEIT


DIE DEMOKRATIESE ALLIANSIE SE TIENPUNTVERBETERINGSPLAN VIR DIE TSHWANE METROPOLITAANSE MUNISIPALITEIT

1. DRASTIESE MISDAADBEKAMPING deur te verseker dat die munisipale polisiediens bekwaam, doeltreffend en responsief is deur volgehoue en omvattende opleiding aan lede te verskaf; deur voldoende toerusting te voorsien; deur meer polisielede te ontplooi waar misdaadvlakke buitengewoon hoog is; én deur te verseker dat daar te alle tye ten minste een reaksievoertuig in elke wyk beskikbaar is.

2. DAARSTELLING VAN ’N DEURSIGTIGE EN KORRUPSIEVRYE MUNISIPALITEIT deur te verseker dat alle raads- en subraadsvergaderings oop is vir die publiek; dat behoorlike notules van sulke vergaderings gehou word; dat sulke notules asook ander belangrike dokumente soos dié wat handel oor die geïntegreerde ontwikkelingsprogram en die begroting toeganklik is vir die publiek; én dat ’n doeltreffende stelsel geskep word vir die hantering van klagtes en die aanmelding van gevalle van korrupsie. Die tenderbeoordelingskomitee sal oopgestel word vir die publiek, ten einde deursigtigheid en regverdigheid te verseker.

3. AANSTELLING VAN BEKWAME RAADSLEDE EN MUNISIPALE AMPTENARE deur te verseker dat elke DA-raadslid en -burgemeester doelgeskik is, én dat hulle ’n DA-raadslidhandves onderteken en só onderneem om hoë diensstandaarde te handhaaf. Ons sal amptenare aanstel op grond van hul vermoëns en nie bloot as gevolg van hul party-affiliasie nie. Elke persoonlid se prestasie sal op ’n gereelde grondslag geëvalueer word. Geen nepotisme sal geduld word nie.

4. VERBETERING VAN KLIëNTEDIENS deur die skepping van eenstop-dienssentrums, toegerus met kantore en beman deur amptenare om aan inwoners bystand ten opsigte van alle munisipale dienste te verleen. Die personeel by hierdie sentrums sal oor toepaslike opleiding beskik en van die nodige toerusting voorsien wees.

5. DRASTIESE VERBETERING VAN FINANSIëLE BESTUUR deur ’n doeltreffende rekeningstelsel daar te stel wat bedryf word deur opgeleide en bewame amptenare, wat sal toesien dat korrekte rekenings aan inwoners gelewer word. ’n Doeltreffende skuldinvorderingsdiens sal ook daargestel word, ten einde te verseker dat alle gelde wat maandeliks aan die munisipaliteit verskuldig is, stiptelik ingevorder word.

6. OPHEFFING VAN ARMES deur kortings te bied aan arm, gestremde en bejaarde inwoners wat bereken sal word op grond van eiendomswaardasie en huishoudelike inkomste. Ons sal ’n beleid in die belang van hulpbehoewendes daarstel, waarvolgens verligting gebied sal word aan inwoners wat nie daartoe in staat is om basiese dienste soos waterverskaffing, sanitasie, elektrisiteit en vullisverwydering te kan bekostig nie.

7. AANMOEDIGING VAN KRAGBESPARING EN “GROEN” GEBRUIKE deur inwoners toe te rus om te help om alle vullis te herwin en om kragbesparingsmetodes by huise en werkplekke toe te pas. Aanporingstoekennings sal ingestel word om die gebruikmaking van toestelle wat kraggebruik beheer en kragbesparing bewerkstellig, aan te moedig.

8. SKEPPING VAN ’N NUWE STELSEL VAN OPENBARE BETROKKENHEID om sodoende meer doeltreffende vennootskappe tussen die munisipaliteit en sy inwoners te verseker, wat tot groter inwonerbetrokkenheid by munisipale projekte sal lei en óók tevredenheid by kliënte sal verhoog.

9. GROTER INFRASTRUKTUURONTWIKKELING IN AGTERGEBLEWE GEBIEDE EN BETER INSTANDHOUDING VAN BESTAANDE INFRASTRUKTUUR deur te verseker dat die munisipaliteit in staat is tot grootmaatdienslewering en die instandhouding van ’n grootmaatdienste-infrastruktuur, wat elektrisiteit- en watervoorsiening asook sanitasiedienste insluit. Paaie is deel van ’n onontbeerlike infrastruktuur en moet daarom in stand gehou word en ook na alle gebiede onder munisipale beheer uitgebrei word. ’n Wagtyd van hoogstens 48 uur moet die norm wees vir die herstel van slaggate. Alle foutiewe verkeersligte en wanfunksionerende straatligte moet binne 24 uur herstel word. Ons sal die aantal agente wat tans die inbellyn van die stad se kliëntedienssentrum beman, van die huidige 41 tot 200 agente vermeerder, om sodoende ’n reaksietyd binne 24 uur te verseker.

10. ONONDERBROKE DIENSLEWERING is die reg van elke inwonder van die stad. Die munisipaliteit sal ’n werkbare plan daarstel om te verseker dat dienslewering onderonderbroke bly, ongeag enige vorm van staking of protes deur die amptenary of werkers van die stad.

No comments:

Post a Comment